Sonder om te bluf of te bloos ...
Op die vlakte met sy hier en daar se kalkrante tussen Riversdal en Jongensfontein hoef ons nie 'n storie op te maak nie. Stories en boomversies gebeur vanself kant en klaar net vir oorvertel. So, ons lieg nooit, behalwe as ons nou nie saamstem met die storie nie; dan stêk ons daardie storiehopie in sy mate net soos hy behoort te gewees het. En dis nou ôk nes hierdie stories in die lewe begin kom het.
"Bert! Dantjie! Julle twee moet hier kom kyk! Hier kom een van Hansie Saayman se koeie oor die werf aangery!"
"Wat?! Ag ou man. Jy kin darem die grootste nonsies praat."
"Nee, ek moet sê: Daai man leer sy koeie darem wragtag goed hoor. 'n Anner man kin niks dáárop sê nie. So 'n swêrkater. Dantjie, kom kyk hier!"
Tjirt-tjirt-tjirt-woep, dood – daar vrek die Volksie net voor ons yard.
Nou het Pa se lag sy praat uitgegroei en hy toets nou behoorlik die yard-hekkie se skarniere soos hy op sy arms daaroor leun, want sy bene is seker al lam van die gelag. Ek maak dat ek
buite kom, want my nuuskierigheid het die oorhand gevat oor my verantwoordelikheid om my tande ordentlik te borsel. Dít moet ek met my eie twee kykers kin aanskou.
Plaasstories vir 'ie siel is meer as vertellings oor 'n kontrei. Dis 'n saamlees, saamreis en inklouter – en soms selfs indons – binne 'n anner wêreld, maar, meer nog, 'n kykie in egte mense se binnekant – waarin jy dalk iets van jouself kan raaksien.
Onder die posboom op my Arrie-se-kraal
hang 'n geroeste outydse skaal
Vir maaifoedies lê 'n slagyster gestel
uit 'n ietwat vorige bestel
Agter my seil 'n slang in die gras verby
'n Verneukery? Sê jy? Sie jy!